Libië: Vlugtende kinders, ouers sterf in geweervuur
2011-10-03 08:04
Tripoli – Twee kinders en hul ouers is doodgeskiet toe hulle saam met honderde ander inwoners uit kol. Muammar Gaddafi se tuisdorp probeer vlug het.
Dít terwyl lede van magte wat lojaal is aan Gaddafi se ontsetelde regering gewikkel was in gewapende konflik met rewolusionêre vegters wat die hoofstad omsingel het.
Die lyke is Saterdag na ’n tydelike hospitaal net buite Sirte geneem, het dr. Nuri Naari gesê.
Volgens Naari is die slagoffers doodgeskiet terwyl hulle gevlug het na die rewolusionêre magte se vestings aan die uithoeke van die stad.
Dit is onduidelik deur wie hulle raakgeskiet is.
Intussen het die opperbevelvoerder van die Verenigde State se magte in Afrika aan Associated Press gesê die militêre sending in Libië is grootliks voltooi.
Hy het gesê Navo se betrokkenheid kan reeds volgende week eindig nadat leiers in Brussels vergader het.
Sirte is een van die laaste stede wat nog deur lojaliste beheer word. Rewolusionêre magte het die hoofstad reeds ingeval en hul leiers het ’n oorgangsregering uitgeroep nadat hulle maande lank in die burgeroorlog in Libië gewikkel was.
Die volgehoue gevegte in sekere stede en dat Gaddafi nie aangekeer is nie, weerhou die leiers van Libië se oorgangsregering daarvan om ’n oorwinning te verklaar.
Rewolusionêre magte het inwoners twee dae gebied om die stad te verlaat, het Mustafa Abdul-Jalil, hoof van die Nasionale Oorgangsraad, gesê.
“Hierdie tydperk bied families die geleentheid om stede wat deur gevegte geteister word, te verlaat.”
Die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis het Saterdag ook ’n span na Sirte gestuur om mediese toerusting na ’n hospitaal te neem.
Volgens ’n persverklaring is altesaam 200 gewondes in die Ibn Sina-hospitaal, waar ’n tekort aan brandstof vir die kragopwekker en ontsmettingsmiddels ontstaan het.
Baie vlugtelinge uit Sirte het gesê die stad ly steeds voedsel- en watertekorte.
– Sapa-AP
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger