Libië: 400 'onwettige immigrante' vas
2011-12-06 14:14
Tripoli – Libiese owerhede het Maandag verhoed dat meer as 400 Afrikane onwettig na Italië reis toe hulle ‘n boot naby die kus van Tripoli voorgekeer het.
“Ondanks ‘n gebrek aan hulpbronne was ons in staat daartoe om die ontwettige beweging van mense wat op pad na Italië toe was, te verhoed,” het Fawzi Abdelali, tussentydse minister van binnelandse sake, gesê.
Abdelali het gesê dat onwettige immigrasie in Libië ook anders hanteer sal word as onder Muammar Gaddafi se regering.
“Onwettige immigrasie is deur die vorige regime gebruik om Europa af te pers. Die saak sal van nou af anders getakel word,” het hy gesê.
“Ons verwag ondersteuning van die res van die wêreld” om mensehandel verder te verhoed, het hy gesê.
Onder die sowat 420 immigrante wat by die hawe in Tripoli aangehou word, is Ethiopiërs, Ghanese, Ivoriane en Nigeriërs.
Volgens genl. Joma al-Meshri het ‘n groep voormalige rebelle en offisiere die boot vroeg Maandagoggend sowat 10 myl van die kus van Tripoli af voorgekeer.
Volgens Khaled al-Bassir, ‘n bevelvoerder, het hulle inligting oor die beplande reis ontvang, en drie patrollie-bote is gestuur om die groep voor te keer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP