Landmyne ’n bedreiging in Suid-Soedan
2011-09-05 09:11
Pretoria – Suid-Soedan het sy onafhanklikheid op 9 Julie vanjaar verkry, maar vir duisende van die inwoners op die bestrede strook met Soedan is die bedreiging van landmyne erger as ooit tevore.
Paaie, veral in die Bentiu-gebied van die Unity-provinsie, word daagliks deur rebellegroepe gemyn.
’n Suid-Afrikaanse ontmyningsgroep in die gebied, wat probeer bepaal watter paaie is toeganklik of gevaarlik, word ook al hoe meer ingespan as noodwerkers wanneer burgerlike voertuie myne aftrap.
Volgens Jaco Crots, projekbestuurder van Mechem in Suid-Soedan, moes die ontmyningspanne die afgelope twee weke twee dae ná mekaar inspring om die oorlewendes van sulke voorvalle te help.
In die een het ’n bus met 12 passasiers ’n teentenkmyn afgetrap.
Mechem se span ontmyners, wat altyd paramedici insluit, was gou op die toneel.
Die mynbestande voertuie het nege van die beseerdes na die hospitaal op Bentiu vervoer, maar twee is in die hospitaal dood.
Die ander beseerdes is op die toneel vir mindere beserings behandel.
Net die volgende dag en net ’n entjie verder het ’n regeringsvoertuig met 13 insittendes ’n teentenkmyn afgetrap.
Drie vroue is dood en die ander erg beseer.
Volgens Crots weet die gemeenskap dat die betrokke paaie landmyne het en daarom uiters gevaarlik is om op te ry.
Omdat daar egter geen alternatiewe roetes is nie, vat hulle noodgedwonge die kans.
Met die tweede voorval moes die ontmyningspan letterlik eers ’n veilige strook na die toneel van die ontploffing “vee” voordat dit veilig sou wees om die beseerdes te verwyder.
“Die minimum hulp en bystand is onder die plaaslike gemeenskap beskikbaar. Ons ouens klim maar in en help, al is dit nie ons verantwoordelikheid om ’n noodmediese diens te lewer nie,” vertel Crots.
By die eerste voorval het soldate van die Suid-Soedanse weermag die gebied rondom die toneel beveilig. In dié proses het hulle slegs 160 m verder nóg ’n myn uitgegrawe.
Volgens inligting van die Suid-Soedanse weermag was dit rebellemagte wat kort voor die voorvalle in dié gebied inbeweeg het wat die myne, sowel as ’n rits ander, gelê het.
Een van die rebelle wat deur die weermag gevang is, het gesê hulle het benewens dié wat afgetrap is, nog vier myne in die gebied gelê, maar kon nie die plekke uitwys nie.
Die Verenigde Nasies (VN) het die ontmyningspanne van Crots bedank vir hul vinnige hulpverlening wat noodwendig verskeie lewens gered het.
Volgens Irin, die VN se nuusdiens, is daar die afgelope paar maande ’n merkbare toename in die voorkoms van nuwe myne op paaie in die gebied.
Dit het daartoe gelei dat verskeie nie-regeringsorganisasies hul noodleningsprogramme sowel as kosvoorsiening aan wangevoede vlugtelinge moes staak.
Die rebellegroepe plant myne so ver as wat hulle beweeg. Dít maak tot ’n groot mate die ontmyningspogings van die afgelope ses jaar ongedaan.
In een onlangse voorval het ’n jong seuntjie op ’n myn getrap en albei sy voete verloor.
Volgens Crots veroorsaak dié gevaarlike situasie dat die meeste van die ander ontmyningsorganisasies ook uit die gebied onttrek het. Net die Suid-Afrikaners het oorgebly.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld