Krake wys in Egipte se Moslem-broederbond
2011-06-27 11:53
Kaïro – Verskeie lede van Egipte se Moslem-broederbond, insluitende ‘n prominente senior figuur, het Sondag weggebreek om ‘n nuwe politieke party te vorm.
Dié verwikkeling dui op nuwe onstabiliteit in die invloedryke Islamitiese groep wat na verwagting 'n groot rol gaan speel in die land se opkomende verkiesings.
Die Broederbond was die magtigste en mees georganiseerde opposisieparty voordat president Hosni Mubarak op 11 Februarie uit sy amp verwyder is.
Nietemin word die party deur groot uitdagings in die gesig gestaar ná die revolusie in Egipte, waar die nuwe politieke oopheid sy tol eis.
Verskeie faksies het reeds weggebreek om nuwe partye te vorm om teen die Broederbond se Freedom and Justice Party te staan.
Die Moslem-broederbond is bekommerd oor die splintergroepe en het gedreig om lede te skors wat by enige van die mededingende partye wil aansluit. Die party het selfs een van sy leiers geskors wat besluit het om op sy eie vir president te staan.
Die jongste wegbreek-groep word gelei deur lede van die Broederbond se sogenaamde reformistekamp wat Sondag aangekondig het dat hulle ‘n aparte groep vorm, genaamd die al-Riyada, Arabies vir Die Pioniers.
Die nuwe party sien Islam as die fondasie van die Egiptiese kultuur, maar nie van sy politiek nie, het Khaled Dawoud, wat nou aan die spits van al-Riyada staan, gesê.
“Egipte se kultuur is Islam, hoekom moet ons uitbrei?” het Dawoud aan die Associated Press gesê.
Die Moslem-broederbond staan onder die vaandel van “Islam is die oplossing” en sien Islamitiese Sharia-wet as die basis van die samelewing.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP