Koningin vereer Zim-boer wat Mugabe verkla
2010-06-18 10:33
Pretoria. - Die 40-jarige Zimbabwiese boer Ben Freeth, wat pres. Robert Mugabe en sy regering by ’n tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap verkla het, gaan deur koningin Elizabeth II van Brittanje vereer word.
Freeth, wat in Engeland gebore is, sal binnekort na Buckinghampaleis in Londen genooi word waar die Orde van die Britse Ryk deur die koningin aan hom toegeken sal word vir sy dienste aan die landbougemeenskap in Zimbabwe.
Hy en sy skoonpa, mnr. Mike Campbell, het ’n paar jaar gelede reeds ’n aansoek teen die Mugabe-regering se grondvergrype in Zimbabwe gebring.
Die tribunaal het in 2008 beslis dat die Zimbabwiese regerings se grondhervormingsprogram onwettig en rassisties is en dat boere wat van hul plase verdryf is, toegelaat moet word om terug te keer.
Die Zimbabwiese regering het hom egter nie aan die uitspraak van die tribunaal gesteur nie en ’n groep Zimbabwiese boere het onlangs ’n minagtingsaansoek by die hof ingedien.
Uitspraak is voorbehou.
Kort voor die tribunaal se uitspraak in 2008 is Freeth, Campbell en dié se vrou, Angela, ernstig aangerand. Verlede jaar is hul plaashuise afgebrand en hulle is van die plaas Mount Carmel in Mashonaland verdryf. Hulle woon nou in Harare.
’n Dokumentêre rolprent, Mugabe and the White African, is oor hul stryd gemaak en wêreldwyd vertoon.
“Dit was ’n groot verrassing en ’n groot eer, maar ek weet nie hoekom ek uitgesonder moet word vir al die eer nie. Hier is baie mense wat iets probeer doen om die onwettige grondvergrype te stop,” het Freeth gesê.
- Die Burger