Kommer oor sterftes van Christene in Egipte
2011-10-11 07:04
Kaïro – Die gewelddadige dood van minstens 25 Koptiese Christene hier die afgelope naweek het Maandag tot ernstige kommer in Amerika en in Europa gelei oor die toenemende spanning in Egipte tussen godsdiensgroepe.
Die slagoffers is Sondag dood toe Egiptiese soldate met pantservoertuie onder ’n groep Koptiese betogers buite die nasionale TV-sentrum ingejaag het.
Meer as 270 ander is toe ernstig beseer.
Verskeie van die betogers is in hegtenis geneem en sal binnekort voor militêre howe verskyn.
Dit was die ergste geweld in Egipte sedert oudpres. Hosni Mubarak in Februarie vanjaar in ’n? volskaalse straatrevolusie gedwing is om sy amp te verlaat.
Die tussentydse Egiptiese eerste minister, Essam Sharaf, het Maandag in opdrag van die regerende militêre raad ’n dringende ondersoek na die voorval gelas.
Die Koptiese betogers het in hul protesoptog beswaar aangeteken teen wat hulle bestempel het as volgehoue diskriminasie teen en aanvalle op hul kerke deur Islamitiese ekstremiste, onder wie die Salafiste en die Moslem-broederskap.
Sommige waarnemers wil dit hê dat die opstand teen Mubarak in Februarie sy oorsprong onder meer gehad het in beskuldigings deur Moslem-aktiviste dat hy die Koptiese kerk beskerm.
Verskeie Christene is op Kersdag in Desember en vroeg Januarie vanjaar in bomaanvalle op kerke in Heliopolis en in die middestad van Kaïro dood en beseer.
Die betoging Sondag in Kaïro was die gevolg van ’n aanval verlede week deur Moslem-ekstremiste op ’n Koptiese kerk in Aswan in die suide van Egipte.
Sowel Amerika as die Europese Unie het Maandag ’n beroep op die Egiptiese owerheid gedoen om selfbeheersing aan die dag te lê.
Hulle het hul kommer uitgespreek oor die impak wat die onrus, sou dit voortduur, kan hê op die hou van die parlementêre verkiesing wat vanjaar nog in Egipte moet plaasvind.
Sowat 10% van Egipte se 80 miljoen mense is Christene, die meeste lidmate van die Koptiese Kerk.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters