Keniane beskuldig Britse regering van marteling
2011-04-06 19:02
Londen - Vyf Keniane beskuldig die Britse regering van marteling tydens ‘n opstand teen die voormalige koloniale mag meer as 50 jaar gelede en sal Woensdag bewyse aan die Britse Hooggeregshof gee, het hulle prokureurs gesê.
Die drie mans en twee vroue het gesê dat hulle gekastreer, seksueel mishandel en erg aangerand is in die aanhoudingskampe wat deur die Britse regering beheer is. Hulle verlang nou ‘n verskoning en finansiële vergoeding van Brittanje.
‘n Klag is namens hulle ingedien deur hulle prokureurs.
“In hierdie geval sal die eisers, wat in hulle 70’s en 80’s is, sowat 6 400km vanaf die platteland van Kenia reis om op 6 April bewyse aan die hooggeregshof in Londen te lewer,” het die prokureursagentskap op sy webtuiste gesê.
Sowat 300 bokse met dokumente is gevind wat wys hoe die Britte probeer het om die opstand teen te veg nadat die hof beveel het dat die regering alle relevante bewyse moet voorlê.
Die vermiste materiaal, meer as 1 500 lêers wat vroeër as verwoes en vermis aangemeld is, is in 1963 uit Kenia verwyder. Dit is na Brittanje gebring in die dae voordat Kenia onafhanklik geraak het in ‘n poging om bewyse “wat die Koningin se regering in die verleentheid kan stel” te verberg.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters