Keniaanse weermag dood 9 Shabaab-rebelle
2011-11-14 10:30
Nairobi – Keniaanse soldate het nege al-Shebaab-rebelle tydens ‘n skietgeveg in die suide van Somalië doodgeskiet, het ‘n woordvoerder van die weermag Sondag gesê.
Die skermutseling het in dieselfde gebied plaasgevind waar troepe in Oktober deur Nairobi se regering ontplooi is om teen dié ekstremistiese militia te veg.
Vier Keniaanse troepe is tydens die geveg beseer, het maj. Emmanuel Chirchir gesê. Hy het egter nie bekend gemaak presies waar die voorval plaasgevind het nie.
“Op 12 November om 23:30 het die KDF en die TFG (Keniaanse en Somaliese magte) op ‘n al-Shabaab-kamp afgekom tydens ‘n patrollie en nege van hulle doodgeskiet,” het Chirchir gesê.
“KDF het ammunisie, wapens en vuurpylaangedrewe granate by die al-Shabaab-kamp gekonfiskeer.”
Chirchir het ook gesê dat die Keniaanse soldate laat Saterdagnag ‘n klopjag op ‘n grensdorp uitgevoer het waartydens hulle wapens gekonfiskeer het en vier mans, insluitend ‘n Keniaan, in hegtenis geneem het.
Drie Somaliese vroue is ook in hegtenis geneem. Chirchir het gesê die soldate het twee AK47-gewere, baie ammunisie, vuurpylaangedrewe grantate en $9 200 (sowat R72 000) gekonfiskeer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP