Keniaanse man met handgranate, gewere betrap
2011-10-26 13:16
Nairobi – Die Keniaanse polisie het Dinsdag ‘n man in hegtenis geneem nadat handgranate en gewere in sy besit gevind is.
Die man is in 'n krotbuurt in Nairobi in hegtenis geneem nadat twee bomontploffings die hoofstad Maandag geruk het.
Mathew Iteere, die polisiekommissaris, het gesê die verdagte het 13 handgranate en ses gewere in sy besit gehad.
Twee ontploffings het Maandag in Nairobi plaasgevind – die eerste omstreeks 01:15 in ‘n kroeg en die tweede in die aand by ‘n bushalte. Een persoon is tydens die tweede ontploffing dood. Sowat 20 mense is in die twee voorvalle beseer.
Die land se regering is bekommerd dat Somalië se al-Shabaab-rebelle hul dreigemente van teenaanvalle uitvoer nadat Keniaanse troepe die suide van Somalië binnegeval het.
Die klein skaal van die aanvalle stel egter voor dat dit nie die militante groep was wat dit uitgevoer het nie.
Iteere het gesê die verdagte is nie ‘n etniese Somaliër nie, maar is afkomstig van ‘n Keniaanse stam.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP