Keniaanse dokters stop staking
2011-12-14 08:30
Nairobi – Keniaanse dokters het ‘n week lange staking om beter salarisse te eis, afgestel nadat die land se leiers hulle gesmeek het om op te hou en weer te werk, het ‘n unie-beampte Dinsdag gesê.
Ten minste 2 300 dokters het opgehou werk nadat die regering gesê het hulle kan nie die eis van ‘n 300% salarisverhoging kry nie. Dokters wat by staatshospitale werk, het gesê dat hulle behoeftes al vir meer as tien jaar ignoreer word.
“Ons het die staking gestop sodat topbeamptes van ons unie met die regering kan onderhandel. Ek het die dokters wat aan die staking deelneem, gevra om weer te gaan werk nadat die regering ons verseker het daar sal geen viktimisering plaasvind nie,” het Boniface Chitayi, die sekretaris-generaal van die unie vir mediese praktisyns en tandartse in Kenia, gesê.
“Ons beplan om vars onderhandelinge met die regering Woensdag te begin.”
Die dokters, wat glo 35 000 shillings (sowat R3 200) per maand verdien, is die nuutste werkers in die openbare sektor wat hoër salarisse eis terwyl lewenskostes styg. Inflasie in dié land het in November met 20% gestyg vir die 13de opeenvolgende maand.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters