Kenia wil buffersone skep in Somalië ná ontvoerings
2011-10-18 08:00
Nairobi – Die Keniaanse weermag se inval die afgelope naweek in die suide van Somalië is daarop gemik om ’n militêre buffersone van sowat 100 km breed tussen dié twee lande te vestig.
’n Keniaanse diplomatieke bron het Maandag bevestig dat onlangse ontvoerings en moorde van Westerse toeriste en gesondheidswerkers naby die Somaliese grens dié militêre optrede genoodsaak het.
Twee vroue, ’n Brit en ’n Franse toeris, asook twee Spaanse vroue, lede van Dokters Sonder Grense, is die afgelope maand vanuit Noord-Kenia gevange geneem en na Somalië weggevoer.
Die regerings van talle Westerse lande het sedertdien waarskuwings aan hul burgers gerig om nie afgeleë luukse oorde aan die Keniaanse kus te besoek nie.
Keniaanse ministers het sedertdien hul kommer uitgespreek oor die uitwerking wat die ontvoerings kan hê op dié land se winsgewende toeristebedryf.
Benewens die ontvoerings, is die Keniaanse regering ook bekommerd oor die toename van Somaliese vlugtelinge wat teen ’n koers van meer as 4 500 per maand na Verenigde Nasies-kampe aan dié land se grense na veiligheid vlug.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld