Kenia 'nie verantwoordelik vir bomontploffings'
2011-11-14 18:02
Mogadisjoe – ‘n Militêre woordvoerder het gesê Kenia is nie verantwoordelik vir die ontploffings wat in ‘n Somaliese stad gehoor kan word nie.
Die stad is glo deel van ‘n lys teikens wat deur die Keniaanse weermag gepubliseer is.
Habiba Nur, ‘n inwoner, het Maandag gesê dat hy Sondagnag vier ontploffings in die stad Afgoi gehoor het – die stad is sowat 30 km van die hoofstad af. Ali Sheik Muhudin, nog ‘n inwoner, het gesê die ontploffings was glo naby ‘n militêre basis.
Keniaanse troepe het in Oktober Somalië binnegegaan in ‘n poging om die al-Shabaab-rebelle vas te trek.
Maj. Emmanuel Chirchir, die Keniaanse weermag se woordvoerder, het gesê Kenia is nie verantwoordelik vir die ontploffings in Afgoi nie.
Afgoi was op ‘n lys van teikens wat Chirchir op 1 November gepubliseer het.
Al-Shabaab het ontken dat Afgoi gebombardeer is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP