Kenia maak reg vir inval van Somaliese dorp
2011-11-18 16:11
Nairobi – Sowat 400 Keniaanse soldate het by Liboi, ‘n grensdorp van Somalië, opgedaag ter voorbereiding van 'n tog na ‘n sleuteldorp in Somalië.
Volgens 'n beampte het die soldate Vrydagoggend met helikopters, ligte vliegtuie en ander toerusting daar opgedaag.
Hy het gesê die soldate is gestuur om te help om Afmadow oor te neem. Die dorp is tans onder beheer van al-Shabaab-rebelle wat met Al-Kaïda verbind word.
Die beampte wou anoniem bly omdat hy nie toestemming het om militêre operasies te bespreek nie.
Keniaanse magte het in Oktober na Somalië gegaan en hoop om Kismayo, ‘n hawestad wat een van die vestings van die rebelle is, oor te neem. Afmadow is op pad na Kismayo.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP