Kenia begin 'moeder van alle operasies' teen Somalië
2011-10-20 08:26
Nairobi – Die Keniaanse regering gaan sy optrede teen Al-Shabaab in die suide van Somalië opvolg met militêre optrede teen leiers van dié terreurgroep in die hoofstad, Nairobi, self.
Dié aankondiging is deur Orwa Ojodeh, die land se adjunkminister van staatsveiligheid, gedoen.
Volgens Keniaanse media het Ojodeh Woensdag gesê “die moeder van alle operasies” gaan teen Somaliese rebelle in Eastleigh, een van Nairobi se groot krotbuurte, begin word.
“Die Al-Shabaab-vraagstuk is soos ’n groot monster, met sy stert in Somalië en die kop hier in Nairobi.”
Die Keniaanse militêre optrede volg ná die onlangse ontvoering van vier vroue – ’n Franse vrou, ’n Brit en twee Spanjaarde – deur Al-Shabaab vanuit die noorde van Kenia na Somalië.
Die Franse regering het Woensdag bevestig dat hy “geloofwaardige inligting” ontvang het dat Marie Dedieu, die Franse gyselaar, waarskynlik in aanhouding in Somalië dood is.
Keniaanse magte het Somalië intussen sover as 180 km binnegedring en voer tans met Somaliese regeringsmagte operasies uit teen vermeende Al-Shabaab-vestings.
– Reuters, AFP
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld