Handgranaat na polisiekantoor geslinger
2012-10-02 15:02
Garissa, Kenia – Vermeende al-Shabaab-militante het glo Maandag ‘n handgranaat na ‘n Keniaanse polisiekantoor gegooi in die stad Garissa.
Dié voorval volg 'n dag ná twee polisiebeamptes in dieselfde gebied doodgeskiet is.
Kenia loop deur onder 'n rits terroriste-aanvalle sedert die regering verlede Oktober soldate gestuur het om in Somalië in te gryp.
“’n Handgranaat is gegooi, dit het geval en het ontplof, maar niemand is beseer nie,” het Mohamed Maalim, ‘n polisiewoordvoerder, gesê. Hy het bygevoeg dat daar vir 10 minute ná die ontploffing ‘n skietery was.
“Die polisie het terugbaklei en die groep verdryf.”
Maalim sê dat die polisie vermoed dat dit ‘n Al-Shabaab-aanval is, die derde een in twee dae, na twee polisiebeamptes Sondag in Garissa doodgeskiet is en ‘n bom by ‘n kerk in Nairobi gegooi is. Drie kinders is in dié aanval dood.
Keniaanse soldate van die Afrika-unie het die Somaliese hawestad Kismayo Maandag vir die eerste keer binnegegaan, drie dae ná hulle die al-Shabaab-rebellegroep uit die gebied weggedryf het.
Kenia vermoed die aanvalle is uit weerwraak oor sy rol in die gebeure in Kismayo.
“Hierdie is ‘n gruwelike daad van al-Shabaab. Hulle is bitter oor hulle verliese in Somalië.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters