Kenia: Bom vernietig polisievoertuig
2011-11-16 15:02
Garissa – ‘n Polisievoertuig wat ‘n VN-konvooi in Kenia se Dadaab-vlugtelingskamp naby die grens met Somalië vergesel het, is deur 'n bom vernietig.
Dit is die tweede soortgelyke voorval in dié kamp in November.
Volgens ‘n VN-bestuurder het die ontploffing die agterkant van die polisievoertuig geruk oomblikke nadat ‘n konvooi van tien voertuie Hagadera, een van die kampe in die kompleks, verlaat het.
Twee privaat veiligheidswagte en twee polisiebeamptes is in die voorval beseer.
Twee van die vlugtelinge in die kamp is in verband met die aanval in hegtenis geneem, het Eric Kiraithe, ‘n polisiewoordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
Sedert Kenia verlede maand honderde soldate na Somalië gestuur het om die al-Shabaab-rebelle te soek, is ‘n vlaag aanvalle in die land uitgevoer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters