Katedraal se bouvalle nou skuilplek vir honger Somaliërs
2011-08-13 12:45
Mogadisjoe – Meer as 100 000 mense het in die afgelope twee maande op Somalië se droogtegeteisterde hoofstad, Mogadisjie, toegesak in hulle soeke na voedsel, water en medisyne, berig die nuusagentskap AFP.
Ook die bouvalle van Mogadisjoe se Rooms-Katolieke katedraal dien nou as skuilplek vir desperate families wat die droogte en hongersnood in Somalië probeer oorleef.
Honderde mense het skuilplekke met plastiek en lap opgerig in die bouvalle van dié katedraal, wat in die land se jare lange burgeroorlog vernietig is.
"Ons moes ons grond agterlaat, want al die diere het gevrek," het Numur Moalim, wat 15 dae lank gereis het om by die katedraal uit te kom, gesê.
"Ek het nie gekom omdat dit 'n kerk is nie, maar omdat ek beskerming en skuilplek nodig gehad het en daar was nêrens anders om heen te gaan nie," het Moalim gesê.
Islamitiese ekstremiste het dié katedraal vroeër gebruik as 'n teiken in militêre oefeninge, maar die bouvalle is nou beset deur families wat ly onder dié gebied se dodelike droogte en hongersnood.
Die Verenigde Nasies het onlangs vir die eerste keer in die huidige eeu verklaar dat 'n hongersnood in die Horing van Afrika heers.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP