Kano-aanvallers was selfmoordbomdraers
2012-01-24 10:00
Kano – Die Nigeriese polisie het bekendgemaak dat vyf van die aanvallers in Kano, in die noorde van die land selfmoordbomdraers was, het RSG berig.
Volgens Ibrahim Idris, die polisiekommissaris, is honderde ploftoestelle ook in die gebied gevind en kon onskadelik gestel word.
Volgens die jongste statistiek het 184 mense in die aanvalle omgekom, waarvan meer as 24 polisiebeamptes was.
Die polisie het gesê hulle het afgekom op tien motors vol plofstof wat in die stad geparkeer was. Sowat 300 blikkies koeldrank, agt blikke poeiermelk en agt 350 kilogram dromme was ook vol plofstof.
Meer as 20 ontploffings het Vrydag Kano geruk.
Boko Haram, die Islamitiese sekte, het aanspreeklikheid aanvaar.
– Volg Nuus24 op Twitter.
– RSG
- Sapa - AFP