Kameroen: 15 dood in brandstof-ontploffing
2011-07-04 17:59
Yaounde – Vyftien mense is dood toe ‘n voertuig wat brandstof van Nigerië by die Kameroen ingesmokkel het, by ‘n grensdorp ontplof het, het ‘n staatsradiostasie Maandag berig.
Van die 15 slagoffers was 14 Kameroeners en een ‘n Nigeriër.
Die verslag oor die ongeluk kon nie duidelikheid gee oor wat die ontploffing veroorsaak het nie.
Plaaslike owerhede het egter glo gesê ‘n passasier in die voertuig het ‘n sigaret aangesteek.
Sulke voorvalle kom algemeen in Kameroen se drie noordelike streke – Adamawa, die noorde en die verre noorde voor. Nigerië se gesubsidieerde en goedkoop brandstof, plaaslik bekend as "zoua-zoua" of "funge", kan vir drie keer duurder in Kameroen verkoop word, het owerhede gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters