Kaïro kry aandklokreël
2011-10-10 10:00
Kaïro – ‘n Aandklokreël is in Kaïro ingestel nadat 24 mense dood is tydens een van die gewelddadigste botsings tussen Koptiese Christene en die weermag sedert pres. Hosni Mubarak ontsetel is.
Meer as 200 mense is Sondag beseer tydens gevegte wat uitgebreek het ná betogings deur Christene, wat die aandklokreël tot gevolg gehad het, het ‘n amptelike verklaring wat regstreeks uitgesaai, gelui.
Ten minste vyf van die slagoffers is deur weermagvoertuie doodgery, het ‘n priester van die Koptiese gemeenskap gesê. Volgens AFP-korrespondente was daar ook lyke met skietwonde.
Essam Sharaf, die premier van Egipte, het ‘n beroep gedoen op Egipte se Moslems en Christene “om hulle nie aan die oproerigheid oor te gee nie, want dit is ‘n vuur wat almal sal doodbrand.”
Die aandklokreël is van 02:00 tot 07:00 in die Maspero-distrik tot by die Abbassiya-plein, volgens die verklaring wat op televisie uitgesaai is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP