Christene kry tronkstraf ná stryery oor kerk
2011-05-30 13:53
Kaïro - ‘n Egiptiese militêre hof het Sondag twee Koptiese Christene vyf jaar tronkstraf gegee vir geweld en omdat hulle probeer het om ‘n fabriek in ‘n ongelisensieerde kerk te verander.
Die twee mans wat ook vir die besit van wapens aangekla is, is op 18 Mei in hegtenis geneem na botsings tussen Christene en Moslems in Kaïro se Ain Shams-omgewing terwyl die Kopte glo in die gebou wou bid.
'n Koptiese groep wat deel was van 'n versoeningsvergadering tussen die twee partye het gesê die twee mans is onskuldig. Hulle prokureurs gaan glo probeer om teen die beslissing te appelleer.
Sameh Abdel Satar, ‘n lid van Liefhebbers van Egipte en Vrede Vereniging (Egypt Lovers and Peace Society), het gesê die Koptiese Kerk het in Januarie reeds toestemming gekry om die gebou in ‘n kerk te verander.
Dit is glo reeds in 2006 deur die kerk gekoop.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP