KFC sprei sy Afrika-vlerkies
2012-02-03 09:03
Kaapstad. – Hoender vir Afrika.
KFC beplan om vanjaar sy voetspoor in Afrika wesenlik uit te brei om die groeiende middelklas op die vasteland te bereik.
KFC, wat aan die internasionale restaurantreus Yum! Brands behoort, bou reeds winkels in Angola en Malawi. Die ander lande op vanjaar se spyskaart is Tanzanië, Uganda, Angola, Zimbabwe, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Madagaskar. KFC sal aan die einde van die jaar in 20 Afrika-lande sake doen.
Die kitskoskoning het verlede jaar na Zambië, Ghana en Kenia uitgebrei. Volgens mnr. Bruce Layzell, Yum se hoofbestuurder van nuwe Afrika-markte, is die uitbreiding op die groeiende middelklasmark in Afrika gefokus. “Dit het sterk ekonomiese groeipotensiaal en daar is ’n neiging na ’n stabiele, salarisgewende werkkultuur, weg van tradisionele landboubedrywighede.”
Volgens navorsing van Accenture verlede jaar oor die Afrika-verbruikersmark sal verbruikersbesteding tot $1 000 miljard teen 2020 styg. Dié groei gaan gepaard met wesenlike verbeteringe aan inkomstevlakke en infrastruktuur. Die sake-omgewing beloof ook die verdere verstewiging van die verbruikersmark.
Sedert 2000 het verbruikersbesteding in Afrika suid van die Sahara met 4% per jaar gegroei. Die verwagting is dat die aktiewe werkende ouderdomsdeel van die bevolking tot 66% tussen 2010 en 2050 gaan styg. Dit is tans 56%.
Die Internasionale Monetêre Fonds voorspel dat ekonomiese groei in Afrika suid van die Sahara vanjaar 1,75% bo die geraamde internasionale gemiddeld gaan wees. Daar is tans sowat 900 KFC-takke op die vasteland.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger