Joernaliste in Mali aangehou, aangerand
2012-07-13 16:30
Mali – Die hoof van ‘n Maliese koerant is Donderdag by sy kantoor deur gewapende mans ontvoer en erg aangerand voor hulle hom vrygelaat het.
“Gewapende mans het Donderdag na die koerant se kantore gekom. Hulle het skote in die lug afgevuur voor hulle met geweld vir Saouti Haidara ontvoer het,” het ‘n joernalis van L’Independent, wat gevra het om anoniem te bly, gesê.
“Saouti is voor ons gedreig,” het hy bygevoeg. “Die gewapende mans was vreeslik gespanne.”
Haidara is ‘n paar uur later vrygelaat maar volgens die joernalis is hy “erg aangerand en gemartel deur die mans. Hy is later opgeneem in ‘n mediese sentrum in Bamako.”
Haidara is na bewering in Junie in hegtenis geneem deur regeringsintelligensiedienste.
Verskeie ander joernaliste is al in Mali aangeval of aangehou sedert ‘n staatsgreep in Maart ‘n politiese vakuum in die land veroorsaak het wat verskeie gewapende groepe toegelaat het om beheer oor die land se noorde te neem.
Haby Baby, ‘n vryskut-joernalis, is al twee keer in hegtenis geneem, onlangs omdat hy uitgevaar het oor die toestande waarin hy en ander gevangenes moes leef.
“Aaklige goed gebeur in die geheime plekke, hierdie geïsoleerde selle, hierdie donker en vreesaanjaende gange waar mens die gille vir hulp hoor,” het Baby geskryf.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP