Jeugdige besetters verlaat plase in Zim
2010-07-14 09:34
Harare - Dosyne jeugdige ondersteuners van pres. Robert Mugabe se Zanu-PF het drie plase van ’n Duitse burger verlaat nadat die Duitse regering gedreig het om miljoene rande se geldelike hulp aan Zimbabwe te staak.
Dit volg ook ironies genoeg op onlangse stellings van Mugabe dat sy land nie Westerse hulp nodig het nie.
Waarnemers het Dinsdag gesê dit is moontlik die eerste keer dat diplomatieke druk op die Mugabe-regering suksesvol was.
Die jeugdiges het die plase van Heinrich von Pezold in die Chipinge-omgewing in die suidooste van die land vroeg in Junie beset. Von Pezold boer met koffie, tee, vrugte en hout.
Hoewel daar al die afgelope 10 jaar ’n bilaterale beleggingsooreenkoms tussen Duitsland en Zimbabwe is, het die Zimbabwiese polisie geweier om teen die besetters op te tree.
Die Duitse ambassade in Harare het daarop ’n protesnota aan die Zimbabwiese regering gestuur waarin hy gedreig het om ’n beloofde lening van sowat R150 miljoen terug te trek.
“Die jeugdiges is iewers anders heen. Dit lyk of dit die gevolg is van diplomatieke druk,” het Matthias Schumacher, ’n woordvoerder van die ambassade, gesê.
Von Pezold is een van vyf koffieboere in die omgewing. Zimbabwe se koffieproduksie het van 10 000 ton in 2002 tot net 300 ton vanjaar gedaal.
Suid-Afrika en Zimbabwe het vroeër vanjaar ’n soortgelyke beleggingsooreenkoms soos dié tussen Zimbabwe en Duitsland onderteken, maar Suid-Afrikaanse boere in Zimbabwe kla die Suid-Afrikaanse regering doen baie min om na hul belange om te sien terwyl daar hernude grondvergrype in Zimbabwe is.
AfriForum het om dié rede onlangs in ’n prokureursbrief aan die departement van handel en nywerheid geëis die regering moet dringend ingryp om die lewens en eiendom van Suid-Afrikaners in Zimbabwe te beskerm.
Dit was ook nadat meer as 70 Suid-Afrikaanse kommersiële boere vroeër vanjaar ’n geskiedkundige hofbevel in die hooggeregshof in Pretoria bekom het waarin dié hof verklaar het dat die uitsprake van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Windhoek teen Mugabe se grondonteiening in Suid-Afrika geregistreer en erken word en afdwingbaar is.
Die tribunaal het in 2008 beslis dat Mugabe se grondhervormingsprogram onwettig en rassisties is en dat boere wat van hul plase verdryf is daarheen moet kan terugkeer.
- Die Burger