Japan vries R29 miljard van Gaddafi se bates
2011-06-04 09:17
Tokio – Japan het $4,4 miljard (R29 miljard) se bates wat aan die Libiese leier Muammar Gaddafi en sy gevolg behoort gevries onder die terme van ‘n VN-sekuriteitsraad se voorstel, het ‘n berig Saterdag gesê.
Die bates het spaargeld in die bank ingesluit, het die Yomiuri Shimbun-koerant berig na aanleiding van data afkomstig van die departement van finansies. Geen verdere besonderhede is gegee nie.
‘n Woordvoerder was nie onmiddellik beskikbaar om op die berig kommentaar te lewer nie.
Die VN se sekuriteitsraad het op 26 Februarie met sterk ondersteuning van Arabiese en Afrika-lande sanksies ingestel teen die Gaddafi-regime.
Hulle het gehoop om ‘n einde te bring aan nie-regeringsmagte.
Eerste minister Naoto Kan se kabinet het in Maart die sanksies goedgekeur, wat ingesluit het dat Gaddafi se bates gevries word, sowel as ‘n reisverbod teen talle van sy regime-leiers.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA