Jag van robbe in Namibië bekyk
2011-08-31 07:02
Kaapstad – ’n Buitengewone vergadering oor die jag van robbe in Namibië is vir 20 September in die land se hoofstad belê.
Die Namibiese ombudsman, adv. John Walters, wat die byeenkoms aangevra het, het Dinsdag gesê so ’n vergadering is die beste wegspringplek vir ’n ondersoek na die jag van robbe.
“Dit gaan spesifiek handel oor aantygings dat die ministerie van visserye buite sy wettige mandaat optree, die manier wat robwelpies doodgemaak word ... of ons getalle het waarvolgens ons kan bepaal hoeveel robbe daar is, en of kwotas wat aan jagters toegeken word volhoubaar is,” het Walters Dinsdag gesê.
Die tienduisende robbe wat jaarliks deur jagters doodgemaak word vir hul pelse en die vervaardiging van ander produkte, het vanjaar opnuut kritiek van internasionale diereregtegroepe ontlok.
Walters het gevra dat verskeie belangegroepe, asook lede van die visbedryf, kwotahouers wat op robbejag geregtig is en die ministeries van visserye en van omgewingsake op die byeenkoms halfuur lange voorleggings aan hom doen.
François Hugo, hoof van die organisasie Seal Alert SA, is een van die genooides wat hom vir die byeenkoms voorberei. “Ek, my prokureur en my advokaat is besig om weer deur ons regsmening te gaan,” het hy Dinsdag gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger