'Ivoorkus se geweld kom van swart witmense'
2010-12-18 14:00
Media24-Afrika-kantoor - “Swart witmense (wit mense in swart velle) wat die agente van wit imperialiste is, is verantwoordelik vir die na-verkiesingsgeweld in die Ivoorkus.”
Pres. Laurent Gbagbo se regerende party, die Ivorian Popular Front (FPI), het dié bewering gister in Johannesburg gemaak.
Gbagbo weier sedert 4 Desember om sy pos te verlaat nadat hy die pas afgelope verkiesing in die Ivoorkus verloor het. Volgens dié land se verkiesingskommissie het Alassane Ouattara die verkiesing gewen.
Die Verenigde Nasies (VN) se sending in die Ivoorkus het dié uitslag bevestig. Die Afrika-Unie (AU), die Ekonomiese Gemeenskapsmark van Wes-Afrika-state (Ecowas) en verskeie lande, waaronder Suid-Afrika, het dit aanvaar.
Verskeie wêreldleiers, onder wie pres. Barack Obama van die VSA, hou vol met beroepe op Gbagbo om nie net sy pos te verlaat nie, maar om die land te verlaat of anders deur sanksies in die gesig gestaar te word.
Meer as 20 mense het reeds sedert eergisternag in Abidjan gesterf nadat ondersteuners van Ouattara met soldate lojaal aan Gbagbo slaags geraak het.
Sessegnon – met Gbagbo se veldtoghoof, Mesmer Zouzoua, wat vir dié doel na Suid-Afrika gereis het, langs hom – het beweer gewapende rebelle onder die betogers “skiet hul eie mense dood om die skuld op Gbagbo te plaas”.
Sessegnon het verklaar “die einde van Franse imperialisme” het met die verkiesing in sy land en in Afrika met die verkiesing aangebreek.
In ’n voordrag deurspek van slagspreuke soos “nee vir imperialisme, ja vir Gbagbo” het Sessegnon “die ware uitslag” aan die media voorgehou.
Volgens die Ivoorkus se grondwetlike raad het Gbagbo met 51,45% teenoor Ouattara se 48,55% gewen.
Die Gbagbo-regering se grondwetlike raad het dié “uitslag” amptelik aangekondig nadat die verkiesingskommissie na bewering daarmee getalm het.
Sessegnon het die verskil tussen dié twee uitslae toegeskryf aan die grondwetlike raad se herberekening van die stemme nadat sekere uitslae in die noorde van die land, waar Ouattara se grootste steun is, weens “intimidasie en verkiesingsbedrog uitgeskakel is”.
Hy het beweer die voorsitter van verkiesingskommissie, mnr. Youssouf Bakayoko, het die verkeerde uitslag onwettig aangekondig nadat hy na Ouattara se hoofkwartier in ’n hotel in Abidjan ontvoer is.
“Gbagbo die demokraat bly president van die Ivoorkus,” het Sessegnon gesê.