Ivoorkus se Gbagbo in 'goeie toestand' – VSA
2011-05-20 12:12
Washington – Laurent Gbagbo, voormalige president van die Ivoorkus, is in ‘n “goeie toestand” en word regverdig behandel nadat hy in aanhouding geplaas is, het ‘n top-Amerikaanse diplomaat Donderdag gesê.
Gbagbo is op 11 April in hegtenis geneem deur magte wat lojaal is aan die nuwe president, Alassane Ouattara, wat internasionaal as die wenner van November se verkiesings erken is.
Ouattara kon egter nie sy amp beklee nie aangesien Gbagbo geweier het om uit te tree.
“Hy’s in ‘n goeie toestand en sy behandeling is regverdig,” het William Fitzgerald, ‘n spesialis in Afrika-sake, gesê tydens ‘n vergadering van ‘n Amerikaanse komitee vir buitelandse sake.
Die komitee het vergader om maniere vas te stel om die nasie te help.
Fitzgerald se beskrywing van Gbagbo se behandeling is vinnig deur die Republikeinse senator James Inhofe, wat met Gbagbo bevriend is, betwis.
“Dis nie waar nie,” het Inhofe gesê terwyl hy foto’s van Gbagbo en sy vrou ná hul inhegtenisneming gewys het.
“Kyk na sy foto vandag. Jy kan sien hy is aan die kant van sy gesin geskop.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP