Ivoorkus: Rebellehoof nou weermagleier
2011-07-08 12:21
Abidjan – Alassane Ouattara, die Ivoorkus se president, het genl. Soumaila Bakayoko, die voormalige rebelleweermag se hoof, as die hoof van dié land se nuwe weermag aangestel, het owerhede Donderdag gesê.
‘n Gesamentlike verklaring van die departement van binnelandse sake en die departement van verdediging het gesê dat Bakayoko as die hoof van die ICRF aangestel is.
Die ICRF sal magte lojaal aan Ouattara en die voormalige verdediging- en veiligheidsmagte wat onder Laurent Gbagbo, die vorige president gedien het, laat saamsmelt.
Gbagbo is op 11 April in hegtenis geneem ná ‘n tien dae lange geveg vir mag in Abidjan en ‘n vier maande lange politiese krisis waartydens Gbagbo geweier het om sy nederlaag in die November-verkiesing te aanvaar.
Bakayoko vervang genl. Philippe Mangou, wat die pos sedert 2004 beklee het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP