Ivoorkus: Oudpres. se regterhand vasgetrek
2012-08-21 14:35
Abidjan – Die prokureur van 'n voormalige minister van die Ivoorkus, het gesê hy is verbied om sy kliënt te sien.
Alphonse Douati, wat 'n sleutelfiguur was in oudpres. Laurent Gbagbo se party, is die afgelope naweek in hegtenis geneem en sy prokureur word sedertdien verbied om hom te sien.
"Die polisiekommissaris het aan my gesê 'jy het niks om hier te doen nie'," het Toussaint Zahui Dako aan AFP gesê.
"Ons weet nie wat hoekom hy in hegtenis geneem is en die toestand waarin hy aangehou word nie."
Douati, die adjunk-sekretaris-generaal van die Ivooriaanse Populêre Front (FPI), is Saterdagaand deur intelligensiebeamptes by sy huis ondervra en daarna na die agentskap se kantore geneem, het sy party gesê.
Hy is ure ná 'n aanval op die party se hoofkwartiere, waar gewapende mans twee mense ontvoer en drie gewond het, in hegtenis geneem.
Die FPI het pres. Alassane Ouattara se ondersteuners blameer vir die klopjag, maar Ouattara se party het enige betrokkenheid by die voorval ontken.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP