Italië: 'Gaddafi gebruik immigrante as weerwraak'
2011-06-07 20:58
Rome - Die Italiaanse minister van buitelandse sake het gesê Rome is besig om bewyse te versamel wat bevestig dat Muammar Gaddafi, die Libiese leier, immigrante dwing om soms dodelike reistogte oor die Middellandse See aan te pak in ‘n poging om teen Europa en Navo terug te slaan.
Franco Frattini het gesê daar is genoeg bewyse vir aanklaers by die Internasionale Strafhof om in te gryp omdat "ons gekonfronteer word met misdade teen die mensdom".
Sedert die opstand teen Gaddafi vroeër vanjaar begin het, het duisende onwettige immigrante van Libië na Italië gevlug.
Honderde mense is reeds tydens dié reise dood.
In die jongste tragedie word sowat 200 immigrante steeds vermis nadat ‘n boot gesink het. Daar word vermoed dat die boot van Libië geseil het.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP