Internet-aktiviste sluit Zim-webblad
2010-12-31 09:34
Harare – Internet-aktiviste het die regering van Zimbabwe se webblad oorgeneem ná die president se vrou ‘n koerant wou dagvaar oor uitgelapte Wikileaks-dokumente.
Volgens die dokumente, het President Robert Mugabe se vrou wins geslaan uit onwettige diamanthandel.
Sy het die koerant wat dié dokumente gepubliseer het, vir meer as R100 miljoen gedagvaar.
Die aktiviste, wat bloot as “Anonymous” bekendstaan, het in ‘n verklaring op hul webblad gesê dat hulle “Mugabe en sy regime in die Zanu-PF, wat die vryheid van die pers bedreig en enigiemand wat Wikileaks-dokumente publiseer wil dagvaar,” teiken.
Die regering se webadres, www.gta.gov.zw was teen Donderdag nog nie beskikbaar nie terwyl die ministerie van finansies se webblad, www.zimtreasury.gov.za, skynbaar “onder konstruksie was.”
Volg Nuus24 op Twitter.