ISH stel sperdatum uit vir inligting oor Saïf
2012-01-11 12:10
Tripoli – Die internasionale strafhof (ISH) het die datum wanneer Libië inligting aan die hof moet verskaf oor die gesondheid van Saïf al-Islam, die seun van ontslape leier Muammar Gaddafi, uitgestel, het Arabiese media Woensdag berig.
‘n Uitsaaier in Doebai Al Arabiya het berig dat die sperdatum aanvanklik 10 Januarie was maar dat die hof dit na 23 Januarie uitgestel het.
Die ISH het aanvaar dat Saïf in Libië verhoor gaan word nadat hy aangekla is van misdade teenoor die mensdom. Die hof het egter klem daarop gesit dat die land se nuwe regering die hof moet verseker dat die verhoor regverdig sal wees.
Indien die verslag oor Saïf se gesondheid nie betyds ingehandig word nie, kan die hof Libië na die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad verwys.
Saïf word in Zintan in die weste van Libië aangehou. Hy is in hegtenis geneem terwyl hy in November probeer het om uit die land te vlug.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA