ISH sê hy teiken nie Afrikane
2011-06-30 13:04
Abidjan – Die internasionale strafhof (ISH) se adjunkaanklaer het beskuldigings verwerp dat die hof Afrika onregverdig teiken.
Sy het gesê dat die slagoffers ook van Afrika af is en dat aanklagte op klagtes deur Afrikane self gebasseer is.
Fatou Bensouda, die adjunkaanklaer, het gesê die groot aantal verwysings van Afrika kan net so maklik wys dat die leiers op dié kontinent hul verantwoordelikhede aan internasionale regspraak ernstig opneem.
Bensouda, 'n Gambiër, was in die Ivoorkus om die grondslag te lê vir 'n moontlike ondersoek van die oorlogsmisdade wat verband hou met die gewelddadige magstryd tussen pres. Alassane Ouattara en Laurent Gbagbo, die voormalige president, oor die November 2010-verkiesing.
Kritici, insluitend Jean Ping, die Afrika-unie se president, het Luis Moreno Ocampo, die ISH se hoofaanklaer, daarvan beskuldig dat hy dubbele standaarde handhaaf omdat hy glo misdade teiken wat in Afrika gepleeg is.
“Elke keer as ek hoor dat die ISH van dubbele standaarde beskuldig word en dat ons Afrika teiken, word ek hartseer,” het Bensouda gesê.
Die meeste van die konflikte gebeur in Afrika. Die ISH se aandag op Afrika is slegs as gevolg van die betrokkenheid van die mense van Afrika by die ISH.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters