ISH: 'Gaddafi straf volk deur verkragting'
2011-06-09 10:52
Tripoli - Ondersoekers het bewyse dat Muammar Gaddafi, die Libiese leier, massaverkragting beveel het en dat hy houers vol seksdwelms aangekoop het om troepe aan te moedig om vroue aan te val, het die hoof-aanklaer van die internasionale strafhof (ISH) Woensdag gesê.
Luis Moreno-Ocampo het gesê dat hy moontlik gaan vra vir ‘n klag van massaverkragting teen Gaddafi na aanleiding van die nuwe bewyse.
Die internasionale strafhof se hoof-aanklaer verwag binne enkele dae 'n besluit van die regters oor sy versoek om aanklagte van misdade teen die mensdom teen die Libiese leier, een van sy seuns en sy hoof van intelligensie aanhangig te maak.
“Ons het nou bewyse ontvang dat dit Gaddafi self is wat die bevele vir verkragting gegee het en dit is nuut,” het Moreno-Ocampo gesê.
Hy het gesê daar was glo verslae van honderde vroue in sekere omgewings van Libië wat aangeval is tydens die maande lange opstand wat steeds woed.
Daar is bewyse dat Libiese owerhede “Viagra-tipe” medisyne aangekoop het en dit vir troepe gegee het as deel van die amptelike verkragtingsbeleid, het Moreno-Ocampo gesê.
“Hulle het houers aangekoop om die kanse dat vroue verkrag gaan word groter te maak,” het hy gesê.
"Dit was nooit die manier wat hy gebruik om die bevolking te beheer nie. Hierdie verkragting is 'n nuwe aspek van sy onderdrukking van die bevolking.
Dit is die rede waarom ons aan die begin twyfel gehad het, maar nou is ons vas oortuig daarvan dat hy besluit het om sy mense te straf met verkragting," het die aanklaer gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP