Honderde betoog Turabi-inhegtenisname
2011-01-20 22:23
Khartoem – Gewapende polisie het honderde Soedanse betogers in Khartoem uiteengejaag na ´n betoging vir die vrylating van Islamitiese opposisieleier, Hassan al-Turabi.
Turabi is in hegtenis geneem nadat hy´n oproep vir Tunisië-styl onluste gemaak het.
Sowat 300 betogers het Khartoem se strate ingevaar en tot voor Turabi se huis betoog.
Die polisie het traangas op die betogers gevuur en hulle met stokke gejaag. Niemand is egter in hegtenis geneem nie.
Die betoging het voor Turabi se Popular Congress Party (PCP) se hoofkwartier begin waar lede van al die hoof opposisiepartye byeen gekom het om regeringshervormings voor te stel.
In ´n onderhoud voor sy inhegtenisname het Turabi gesê Tunisië-styl onluste, wat pres. Zine al-Abidine Ben Ali uitgedryf het, is in Noord-Soedan waarskynlik weens die ekonomiese krisis en die sterk moontlikheid van onafhanklikheid vir Suid-Soedan.
Nafie Ali Nafie, ‘n bron na aan Pres. Omar al-Bashir, het gesê die regering het bewyse dat Turabi probeer het om staatsekuriteit te ondermyn en sluipmoorde uit te voer.
Nege ander PCP-lede is ook in hegtenis geneem.
Die 78-jarige Turabi was ‘n belangrike rolspeler verantwoordelik vir die 1989 staatsgreep wat Bashir die mag gegee het, maar het intussen lang tye agter tralies en onder huisarres deurgebring na hulle in 1999 ‘n uitval gehad het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP