Hof ten gunste van Zim-boere
2010-02-25 14:35
Pretoria - Die Pretoriase hooggeregshof het Donderdag 'n bevinding van die SAOG-tribunaal teen die omstrede grondhervormingsprogram van Zimbabwe registreer en bekragtig, het AfriForum in 'n verklaring gesê.
Regter Charl Rabie het 'n bevel toegestaan in 'n aansoek wat deur AfriForum namens drie Zimbabwiese boere gebring is vir die afdwinging van die SAOG se bevinding in Suid-Afrika.
Die tribunaal het in November 2008 bevind dat die Zimbabwiese grondhervormingsproses rassisties en strydig met internasionale reg is en dat boere vergoed moet word vir hul skade.
Tot dusver het Zimbabwe die SAOG se bevinding ignoreer. Verlede maand het 'n Zimbabwiese hof ook geweier om die bevinding in Zimbabwe te registreer.
Luidens die verklaring het die hof ook 'n kostebevel van die SAOG-tribunaal bekragtig, wat beteken dat nie-diplomatieke Zimbabwiese bates in Suid-Afrika vatbaar is vir beslaglegging om die kostebevel uit te voer.
Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het gesê die registrasie van die bevinding in Suid-Afrika maak nou die deur oop vir boere wat deur die grondverdelingsprogram geraak is om hulle skade uiteindelik deur middel van Suid-Afrikaanse regsprosesse terug te eis.
– Nuus24