Hel toe met hulle, tier Mugabe by graf
2010-08-02 09:46
Die Burger
Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe het Europeërs en Amerikaners Sondag tot die hel verdoem.
Hy het op die staatsbegrafnis van sy suster, Sabina Mugabe (80), in die helde-akker net buite die hoofstad gepraat.
“Ons sê na die hel, hel, hel met hulle. Hulle (Europa en die VSA) sal nie vir ons besluit wie Zimbabwe lei nie,” het hy gesê.
Charles Ray, die VSA se ambassadeur in Harare, het hom tydens die toespraak uit die voete gemaak en wou nie later daaroor kommentaar lewer nie.
Volgens Mugabe het die dood hom van een van sy grootste vertrouelinge en vriende in sy stryd teen kolonialisme en Westelike oorheersing in Afrika beroof.
Sabina wat tot 2008 ’n parlementslid was, is Donderdag oorlede.
Sy is in ’n tombe begrawe wat in die vorm van ’n AK47-aanvalsgeweer uitgelê is. Vryheidstryders soos Joshua Nkomo en Mugabe se eerste vrou, Sally Hayfron, is in dieselfde tombe begrawe.
Elke graf verteenwoordig ’n koeël in die denkbeeldige AK47 se magasyn.
Volgens Mugabe is dit die Weste wat sy land deur middel van sanksies op sy knieë gebring het.
Hy het weer op die kwessies van sanksies gehamer soos hy die afgelope jaar tydens bemiddeling deur Suid-Afrika tussen hom en Morgan Tsvangirai, Zimbabwe se premier, gemaak het.
Sy suster was een van ’n groep van sowat 200 Zimbabwiese politici en sakelui wat weens dié sanksies nie na Europa en die VSA kon reis nie.
“Europa en Amerika wil die haatlike sanksies behou. Hulle sê Mugabe moet nou gaan en dan kan hulle iemand kies wat die land lei,” het Mugabe gesê.
- Sapa - AP