Handgranaat dood twee sokkerkykers
2010-07-08 14:00
Mogadisjoe – Twee mans wat besig was om die semi-finaal van die Wêreldbeker-wedstryd tussen Duitsland en Spanje te kyk, is dood toe ‘n handgranaat in hul huis in Elashabiyaha ontplof.
Elashabiyaha is ‘n area naby die hoofstad van Mogadisjoe waar baie ontwortelde Somaliërs woon.
Volgens ‘n buurman het die handgranaat tydens die laaste minuut van die Wêreldbeker-sokkerwedstryd tussen Duitsland en Spanje afgegaan.
“Die ontploffing het gebeur terwyl die twee jong mans sokker gekyk het.
“Een van hulle is op die toneel oorlede terwyl die ander een later aan sy wonde beswyk het,” het Mohamed Adan, die buurman, gesê.
‘n Paar minute voor die handgranaat by die huis ingegooi is, was daar ‘n ontploffing by ‘n polisiestasie in dieselfde area.
Somalië se Islamistiese beweging Hezb al-Islam wat die area beheer, het die aanvalle bevestig.
“Ons weet dat aanvalle gisteraand in Elashabiyaha plaasgevind het en dat een van die aanvalle op burgerlikes gerig was,” het ‘n Hezb al-Islam amptenaar gesê.
Hezb al-Islam en die Al-Kaïda-geïnspireerde Shebab-groep het Somaliërs verbied om sokker te kyk aangesien dit as “nie-Islamities” beskou word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA