Haai gevang ná Rooi See-aanvalle
2010-12-03 13:00
Kaïro – Owerhede in Egipte het Donderdag ‘n haai gevang wat glo vier buitelandse toeriste by 'n oord in die Rooi See in die dorp Sharm-el-Sheikh aangeval het.
Die regering se soek-en-reddingspanne het ‘n 2.2 m lange haai gevang, en hulle glo dit is dieselfde een wat die toeriste in die omgewing se waters aangeval het, het Maged George, minister van omgewingsake, in ‘n verklaring gesê.
Wetenskaplikes gaan toetse op die haai doen om vas te stel of daar enige menslike liggaamsdele in sy maag is.
Drie Russiese en een Oekraïense burger is Dinsdag en Woensdag in afsonderlike voorvalle beseer terwyl hulle in die Rooi See geswem het. Twee van die slagoffers het hul ledemate verloor.
Die strand sal gesluit bly totdat die soekoperasie voltooid is.
Daar word tans na nog haaie gesoek omdat soekspanne beweer meer as een haai kon dalk te na aan die kus geswem het.
Haai-aanvalle is baie skaars in die Rooi See.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA