Groen Zim-kragaanleg ontwortel boere
2011-10-26 10:08
Harare – Zimbabwe se eerste groen kragstasie vervaardig etanol van suikerriet en kan help om vir die land energie-onafhanklikheid te werf.
Kritici meen egter die een groot nadeel van die kragstasie is dat dit plaaslike katoenboere ontwortel het.
Die Green Fuel Private Limited-etanolkragstasie is sowat 500 km suid van Harare, Zimbabwe se hoofstad, naby die grens van Mosambiek. Dit word omring deur 11 500 ha suikerriet.
Sowat 500 families het naby die kragstasie gewoon voor die bouwerk in 2010 begin het.
Die boere sê hulle is van hulle plase afgeskop deur die regering en beamptes van die maatskappy wat vir hulle vergoeding belowe het maar dit nooit gegee het nie.
“Die regering het my uitgeskop,” het Sam Rugare (78), ‘n boer wat vir 35 jaar lank op sy plaas gebly het, gesê.
Ruramai Garwe, ‘n weduwee en ma van sewe kinders, het gesê sy kan dit nie meer bekostig om haar kinders se skoolgeld te betaal nie nadat sy van haar grond afgeskop is.
“Ons het altyd skoolgeld gespaar met die winste wat ons gemaak het deur katoen te verkoop. Die regering het vir ons nuwe werke belowe maar ons wag nou al drie jaar vir hierdie werke,” het Garwe gesê.
Green Fuel het nie op navraag vir kommentaar gereageer nie, maar ‘n plaaslike regeringsbeampte het gesê dit is onwaar dat die regering nie die boere vergoed het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA