Grace Mugabe slaan munt uit suiwelplase
2009-09-27 09:50
Grace Mugabe, vrou van die Zimbabwiese president, Robert Mugabe, besit suiwelplase wat tot soveel as ‘n miljoen liter melk per jaar aan die voedselreus Nestlé verskaf, berig die Sunday Telegraph uit Londen.
Grace Mugabe het in 2002 ses van die land se waardevolste plase in wit besit oorgeneem, berig die koerant.
Mugabe, sy vrou en ander lede van die Zimbabwiese regering gaan gebuk onder sanksies van die Europese Unie en die VSA as gevolg van Robert Mugabe se omstrede 29 jaar lange bewind in Zimbabwe.
Nestlé, die multinasionale voedselmaatskappy, is na bewering Grace Mugabe se suiwelplaas se grootste kliënt, maar is nie verplig om sanksies toe te pas nie omdat sy hoofkantoor in Switserland geleë is.
Switserland het sy eie reëls in verband met dié aangeleentheid, maar Nestlé dring aan dat hy nie die wet oortree nie.
Volgens die Sunday Telegraph beslaan Grace Mugabe se eiendomme ongeveer 12 000 akker, maar haar belangrikste eiendom is die Gushungo Suiwelplaas, voormalig bekend as die Foyle-plaas. Dit is geleë in Mazowe, ongeveer 10 km noord van Harare.
Die plaas word bestuur deur Russell Goreraza, haar seun uit haar eerste huwelik.
Volgens plaaspersoneel is dié plaas se enigste ander kliënte (buiten Nestlé) , enkele individue.
‘n Woordvoerder by Nestlé se hoofkantoor in Switzerland het aan die koerant bevestig dat dié maatskappy in 2009 begin het om melk op die ope mark aan te koop van verskeie verskaffers op ‘n nie-kontraktuele basis.
"In sekere gevalle was die melk wat op die ope mark beskikbaar was, van die Gushungo Suiwelplaas afkomstig," het die woordvoerder gesê.
" Tydens die huidige ekonomiese krisis het Nestlé dit nie oorweeg om sy werksaamhede uit die land te verskuif nie. Deur basiese voedselprodukte te voorsien aan Zimbabwiese verbruikers, poog Nestlé om in die behoeftes van die plaaslike bevolking te voorsien. Baie van dié mense is kwesbaar en minderbevoorreg."
- Sunday Telegraph
- SAPA