Google-werker wil vir Egipte sterf
2011-02-10 21:52
Washington – 'n Vrygelate Google-werknemer Wael Ghonim (30), ’n prominente stem van die Egiptiese protesbeweging wat President Hosni Mubarak wil verdryf, het Woensdag vir CNN gesê hy is “gereed om te sterf”.
“Ek werk vir die beste maatskappy om voor te werk. Ek het die beste vrou gehad, ek is lief vir my kinders. Maar ek is bereid om dit alles te verloor sodat my droom verwesenlik kan word. En niemand gaan ons teenstaan nie,” het hy gesê.
Aan Egiptiese Adjunk-President Omar Suleiman het Ghonim gesê, “Julle gaan ons nie stop nie. Ontvoer my. Ontvoer al my kollegas. Sit ons in die tronk. Maak ons dood. Doen wat julle wil – ons gaan ons land terug vat. Vir 30 jaar ruïneer julle hierdie land. Genoeg, genoeg, genoeg.”
Ghonim is Google se bemarkingshoof vir die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Hy is Maandag vrygelaat na twaalf dae in hegtenis.
Hy het erken hy is agter die “We Are All Khaled Said”-blad op Facebook wat betoogers help mobiliseer het.
“Dit is ’n misdaad,” het hy oor die sterfgevalle van honderde betogers wat met die regering gebots het gesê. “Daar is nie meer tyd vir onderhandeling nie.”
Egiptiese owerhede het intussen met militêre aksie gewaarsku terwyl massiewe saamtrekke teen Mubarak voortgaan om te versprei. Daar is berigte dat die weermag pro-demokratiese aktiviste aangehou en gemartel het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP