Gewapende mans sper brug in Kameroen af
2011-09-29 16:31
Douala – Gewapende mans het ‘n blokkade by ‘n groot brug in een van Kameroen se grootste stede gemaak en was in ‘n skietgeveg met die polisie betrokke, slegs tien dae voor dié land se volgende presidensiële verkiesing.
Sporadiese skote kon vir ure ná die geveg nog gehoor word. Gewapende soldate is in die stad Douala ontplooi om voertuie te deursoek.
Die skietgeveg het op die Wouri-brug, wat sowat 1,6 km lank is, gebeur, het Itah Robert, ‘n ooggetuie, gesê. Dié brug word glo deur bykans 35 000 voertuie per dag gebruik.
“’n Ernstige skietgeveg het plaasgevind en een van die gewapende mans het in die Wouri-rivier geval. Dit is nie duidelik of hy verdrink het nie,” het Robert aan AP gesê.
Vier van die aanvallers is in hegtenis geneem en geen bystanders is tydens die voorval beseer nie.
Pres. Paul Biya gaan teen 22 kandidate tydens die presidensiële verkiesing op 9 Oktober meeding.
Biya is sedert 1982 die heerser van Kameroen en een van Afrika se oorblywende diktators. Daar word egter verwag dat hy nog ‘n sewe jaar lange termyn sal wen.
Biya het in 2008 die beperkings van termyne uit die grondwet verwyder. Dit het onrus in Kameroen veroorsaak waartydens 40 mense dood is volgens regeringsstatistieke.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP