Gewapende bende val hoofstad van Burundi aan
2011-07-06 10:46
Bujumbura – ‘n Gewapende bende het twee polisiestasies in Bujumbura, die hoofstad van Burundi, aangeval en pamflette agtergelaat wat sê hulle is deel van ‘n rebelle-groep, het polisie Dinsdag gesê.
Die aanval by die twee brûe wat sentraal-Bujumbura met die suidelike distrikte verbind, het in ‘n skietgeveg ontaard. Niemand is egter in die gevegte doodgeskiet nie.
"Ons het onmiddellik vier verdagtes in ‘n taxi, waaronder drie voormalige soldate in modderbevlekte klere met handgranaat-penne in hulle besit, sowel as die taxi-bestuurder, in hegtenis geneem," het Pierre-Chanel Ntarabaganyi, ‘n polisiewoordvoerder, gesê.
Dit was die eerste aanval van so 'n aard in Bujumbura.
Vorige handgranaataanvalle het in die weste van die land plaasgevind waar die voormalige rebelle-groep, die Nasionale Vryheidsmagte, gevestig was.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP