Gevangenis 'pleeg selfmoord' in tronksel
2010-10-05 12:46
Kinshasa – ‘n Man van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), wat in hegtenis geneem is nadat hy president Joseph Kabila se konvooi met ‘n klip gegooi het, is Saterdag dood in sy sel aangetref.
Volgens ‘n regsbron het hy vermoedelik selfmoord gepleeg.
Aanvanklike ondersoek stel voor dat Armand Tungulu (30) “op die aand van 1 Oktober tot 2 Oktober moes selfmoord pleeg met die hulp van ‘n lap wat hy vir ‘n kussing gebruik het,” het ‘n verklaring van die hoofstaatsaanklaer van die DRK gesê.
Tungulu, wat in België woon maar ‘n ruk lank in Kinshasa was, is op 29 September in hegtenis geneem en deur die president se lyfwagte aangeval nadat hy die konvooi in die stad met ‘n klip gegooi het, het die Afrika-vereniging vir die beskerming van menseregte (Asadho) gesê.
Nie-regeringsorganisasies het Maandag al die “gemene dade” teenoor Tungulu veroordeel en daarop aangedring dat die presiese oorsaak van sy dood op ‘n objektiewe wyse ondersoek moet word.
“Ons kan nie verstaan hoe iemand homself met ‘n kussingsloop kon doodmaak as ons almal weet dat daar geen kussings in die DRK se tronke is nie,” het Jacob Baluishi van die Congolese Observatory of Human Rights aan AFP vertel.
‘n Forensiese dokter is glo ingeroep om die “werklike oorsake” van Tungulu se dood vas te stel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP