Gevangenes in Zim moet eie kos produseer
2011-09-06 13:48
Harare – Zimbabwiese owerhede het bekendgemaak dat gevangenes voortaan hulle eie kos gaan produseer om wydverspreide wanvoeding in dié land se tronke te bekamp, het die staatsradiostasie Maandag berig.
Sowat 1 000 gevangenes het in die eerste vier maande van 2009 volgens die jongste beskikbare syfers weens wanvoeding gesterf. Die omstandighede mag intussen moontlik verbeter het sedert die einde van die ekonomiese krisis in daardie tyd.
Die departement van justisie het verlede jaar voorgestel dat olifante van kant gemaak word om voedsel aan gevangenes te verskaf. Dit het egter ‘n oproer onder diereregtegroepe veroorsaak.
Owerhede sal nou “voltydse landbouproduksie” instel, het die Zimbabwiese Uitsaaikorporasie (ZBC) bekendgemaak. Alle gevangenes sal nou na sogenaamde plaastronke gestuur word.
“Volgens die program sal slegs die wat verhoorafwagtend is in stadstronke gehuisves word. Diegene wat skuldig bevind is, sal hulle vonnisse op die plaastronke uitdien.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA