'Gesonde' Mugabe keer terug na Zim
2012-04-12 10:00
Johannesburg – Zimbabwe se president, Robert Mugabe, het vroeg Donderdag in sy tuisland aangekom en het bespiegelings dat hy in 'n hospitaal in Singapoer om sy lewe veg, beëindig, het die Mail & Guardian berig.
Mugabe het gesond gelyk toe hy hand aan hand saam met sy vrou, Grace, by die trappe van 'n privaatvliegtuig afgestap het.
Hy is deur sy adjunk-president Joice Mujuru en ander senior beamptes by die Harare Internasionale lughawe verwelkom. Hy het nie met joernaliste gepraat wat by die lughawe uitgekamp het nie.
"Soos julle kan sien, is die man gesond," het Webster Shamu, minister van inligting, aan joernaliste gesê.
Mugabe sal na verwagting Donderdag 'n kabinetsvergadering lei en het later Donderdag ander amptelike verpligtinge, het 'n beampte aan die Mail & Guardian gesê.
'n Australiese nuuswebwerf het vroeër berig dat Mugabe in 'n hospitaal in Singapoer om sy lewe veg. Dít kom nadat Mugabe na Singapoer gegaan het onder die voorwendsel dat hy wil toesien hoe sy dogter, Bona, inskryf vir ‘n nagraadse kursus by die Universiteit van Singapoer. Registrasie begin egter in September.
Mugabe regeer Zimbabwe sedert die land in 1980 onafhanklik van Brittanje geword het.
– Volg Nuus24 op Twitter.