Gesoek: Deeltydse laksman
2010-04-15 18:30
Harare – Zimbabwe is op soek na ‘n nuwe laksman nadat hul vorige een in 2004 afgetree het omdat hy glo nie met sy gewete kon saamleef nie.
Die aftrede van die vorige laksman het veroorsaak dat 50 gevangenes wat die doodstraf ontvang het, steeds die Chikurubi-maksimumsekerheidstronk buite Harare bewoon.
Zimbabwe se regering het selfs begin om die pos te adverteer nadat hul glo besef het dat dit nie maklik gaan wees om ‘n vervanging te kry nie.
Die regering het glo kennisgewings en advertensies voorberei wat ‘n werksgeleentheid as ‘n deeltydse laksman aanbied.
Die pos vereis hoërskoolse onderrig.
Die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC) wat ‘n koalisie met president Robert Mugabe se ZANU-PF deel, is teen teregstelling.
Die MDC gaan dalk probeer om teregstelling in ‘n nuwe wetgewing af te skaf.
- Sapa-AP