Geen waarnemers toegelaat tydens Egipte-verkiesing
2011-07-21 12:48
Kaïro – Egipte se militêre heersers het Woensdag gesê onafhanklike waarnemers sal nie tydens die komende parlementêre verkiesings in die land toegelaat word nie omdat “dit sal inbreuk maak op die nasionale soewereiniteit.”
Die militêre raad wat sedert Februarie in beheer van Egipte is het Woensdag ‘n wetsontwerp vir die parlementêre verkiesings goedgekeur. Die verkiesing is egter van September na November uitgestel.
Geen amptelike datum is al vir die verkiesings bekend gemaak nie. ‘n Kommissie wat deur ‘n hooggeplaaste regter gelei word, is saamgestel om vir die verkiesing voor te berei.
Volgens die nuwe wetsotwerp sal die minimum-ouderdom vir verkiesingskandidate van 30 na 25 verlaag word, het die staatstelevisiekanaal berig.
Kandidate sal ook gediskwalifiseer word as hulle godsdienstige slagspreuke tydens veldtogte gebruik.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA